'n QVRP blog

Honde | Katte | Soogdiere | Voëls | Roberts Voëlname | Boeke

23.1.18

Aftreeoord vir varke

Het Beloofde Varkensland in Amstelveen in Nederland is ’n toevlugsoord vir varke wat andersins in ’n slagplaas sou beland. Honderde varke geniet hier ’n rustige bestaan wat weeklikse masserings insluit.

lees meer by 'n Aftreeoord vir varke

11.1.18

Rots- of Klip-klaasneus

Elephantulus rupestris

Die klip-klaasneus kom voor in die koppies naby die mond van die Oranjerivier in die Namakwaland.

Jy kan hierdie muis uitken aan die wit op die bolip, die wit kringe om die oë en die wit onderkant. Die ledemate is wit-bruin en die stert geelbruin.

Hulle hou van klipperige areas waar jy hulle gate onder ’n rots sal sien. Hulle eet hoofsaaklik insekte, maar, soos meeste muise, het hulle ’n swak plek vir ’n stukkie kaas.

4.1.18

A luta Continua

Hierdie is ’n moet-lees boek vir elke natuurliefhebber wat die welsyn van ons olifantbevolking op die hart dra.

Johan Fourie slaag daarin om die strategieë van die wildstropers asook die pogings om hul te uitoorlê op ’n spannende wyse aan die leser voor te hou sonder om die leser te ontstel, maar terselfdertyd die leser skerp onder die indruk te bring tot watter uiterstes die stropers sal gaan.

Johan Fourie skryf onderhoudend en met eerlikheid en passie oor die skemer wêreld van die stropers – mense wat gevorderde tegnologie, helikopters en groot geld inspan vir hul duistere motiewe. Sy deeglike kennis van die veld, natuur en die taktiek wat die stropers gebruik dra daartoe by dat hy die leser ’n naelbytervaring gee oor ’n saak wat elke Suid-Afrikaner na aan die hart behoort te lê.


A luta Continua / Johan Fourie -- Naledi, Junie 2017; 176 p. ; sagteband. -- ISBN 9780928316834

A luta Continua,
Bettie Blom,
4 Januaarie 2018.

2

20.12.17

Die herstel van walvisse in die Suidelike Halfrond

As ons walvisjag onder beheer kan hou in die Suidelike Halfrond, sal die walvisspesies hier teen die jaar 2100 nóg nie die helfte van hul bevolkingsgrootte haal voor die mens hulle begin jag het nie.

Dit is nie net jagters wat hierdie diere uitroei nie, maar ook klimaatsverandering, wat hulle voedselbronne beïnvloed.

Boggelrugwalvisse kan dalk herstel teen die jaar 2050, maar ander spesies is onder druk. Boggelrugwalvisse kan een kalfie per jaar hê, maar sekere ander vinwalvisse paar slegs elke twee tot drie jaar.

Die navorsing oor die walvisse word gelei deur die Universiteit van Queensland in Australië.



(foto: Diego Cotterle)

7.12.17

Salvinalbatros (-malmok) / Salvin’s Albatross

Thalassarche salvini

Hierdie is ’n uiters seldsame voël. Van onder af lyk hierdie albatros baie soos die bloubekalbatros, maar met meer swart aan die vlerkpunt. Verder het die voël ’n grys kop, mantel en bors.



(foto: Arthur Chapman)

7.11.17

Hoekom is pandas wit en swart?

Hoekom is die groot bamboesbeer, wat in die berge van China en Tibet woon, wit en swart van kleur? Hierdie vraag het Amerikaanse navorsers nou suksesvol beantwoord.

Die wit-en-swart kleurskema van die panda het twee funksies: kamoeflering en kommunikasie.

Die studie het bevind dat die grootste dele van die panda, die gesig, nek, maag en kruis, wit is om maklik in ’n sneeulandskap weg te kruip. Die swart op die arms en bene help die dier om in die skadu weg te kruip.

Die wetenskaplikes stel voor dat die dubbele kleur voortspruit uit die beer, wat eintlik ’n karnivoor is, se dieet van bamboeslote en die onvermoë om ’n breër verskeidenheid plante te verteer. Dit beteken dat dit nooit genoeg vet kan stoor om gedurende die wintermaande dormant te wees nie. Dit moet dus die heel jaar aktief wees en beweeg oor lang afstande en ’n verskeidenheid habitatte wat wissel van bergagtige sneeu tot tropiese woude.

Die merke op die kop is egter nie vir kamoeflering nie, maar eerder om te kommunikeer. Die donker ore help om woede te kommunikeer, as ’n waarskuwing aan ander roofdiere. Die donker oogvlekke dien om mekaar uit te ken en aggressie te toon teenoor ander pandas.

Die navorsing is gepubliseer in die joernaal Behavioral Ecology.


(foto: Ted Stankowich/CSU Long Beach)